Efesiërs 1:3 sê: “Aan God,
die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!
Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge
van die Gees wat daar in die hemel is.”
Let op; nie al die seëninge wat op die aarde is nie.
Dit is ook wonderlik, ja. Maar die klem lê op
“al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is”!
Hoe ongelooflik behoefte-gedrewe is ons nie?!
Ons is soos bodemlose putte van eindelose behoeftes!
En die oorgrote meerderheid van hierdie behoeftes
is aards-gedrewe! Ons kort en kort net die heeltyd.
Alles wat die mens sien wil hy hê.
Ons kort heeltyd nog dit of dat. Nuwe selfoon, nuwe motor,
vinniger rekenaar, beter kombuistoerusting, en...en...
Nou gaan dit ook nie anders op die geloofsfront nie.
Luister na die meeste van ons gebede.
Seker tagtig persent of meer gaan oor versoeke aan die Here,
vrae aan die Here, en verskuilde opdragte aan die Here.
Toets gerus ons gebede. Wees eerlik oor jou eie gebede.
Hoeveel van ons gebede is deurdrenk met dankbaarheid en lof?
Hoeveel van ons gebede vra niks van God nie, maar sê net dankie,
om in sy teenwoordigheid te wees en te leef. Hoeveel lof?
Wanneer gaan ons leer dat God alleen regtig genoeg is?
Sy heiligheid, sy grootheid, sy liefde, genade, ontferming,
voorsiening, nabyheid, heerlikheid...! Dat dit regtig oorgenoeg is!
Die Here se teenwoordigheid in jou lewe moet vir jou so oorweldigend
wees dat ons net in stille verwondering by Hom wil wees.
Lof en dank moet die meeste van ons woorde wees, en die grootste!
Ons moet lééf van opgewondenheid om nou reeds in die voorhowe
van die Heerser van die heelal te mag wees!
Dank en lof aan God moet die kern van ons lewe en gebede wees!
Diep dankbaarheid en lof dat Hy ons geskep en herskep het in Christus,
ons in Jesus se Naam raakgesien het toe ons nog goddeloos was,
en ons hoog opgetel het tot by Hom!
Hoekom wil ons, bý Hóm, nog steeds hê en hê?
Kyk weer na die teksvers!
Aan Hom kom al die lof toe! Hoekom! Want Hy is God!
Hoekom nog? Want Hy het ons rééds geseën met al die
seëninge van die Gees WAT DAAR IN DIE HEMEL IS!
Moet dit ons nie so oorweldig met ons hemelse Vader se
onuitspreeklike rykdom en genade wat Hy rééds vir ons
gegee het nie, dat ons ophou dink aan die hemel wat net
eendag eers sal kom. En intussen wil ons alles op aarde hê,
asof dit rykdom is.
Ons gebede...en die hemel.
Bid om nou reeds te leef in al die seëninge van die Gees,
wat daar in die hemel is, en wat jy rééds ontvang het.
Moenie die lewe hier mis nie! Jy leef nou reeds vir God!
Net vir Hom! Nie eers eendag in die hemel nie...
Bid nou daarvoor!
Ernest