Is Jesus vir jou bloot ‘n broodverskaffer,
of is Hy vir jou die Brood van die lewe?
Dit klink na ‘n snaakse vraag. Maar dink mooi.
In Johannes 6:14: “Toe die mense die wonderteken
sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê:
“Hy is werklik die Profeet,
die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
Vers 2 sê: “’n Groot klomp mense het agter Hom aan
gekom omdat hulle die wondertekens gesien het
wat Hy aan die siekes gedoen het.”
Wonderwerke is skare-trekkers.
Jesus vra toe vir sy dissipels hoe hulle vir al die mense
gaan kos gee. Nie eers ‘n jaar se persoonlike inkomste
sou genoeg wees daarvoor nie, volgens Filippus in vers 7.
Andreas sê daar is darem vyf brode en twee visse.
Jesus het toe die skare laat sit.
Net die mans alleen was meer as 5000!
En Jesus deel vir almal brood en vis uit.
Twaalf mandjies vol het oorgebly.
Almal was oortuig Hy is die groot Profeet van God.
God ken ons diepste behoeftes.
Hy weet ons het elke dag brood nodig.
Daarom het Jesus ook die skare hier gevoed.
Hy voorsien dit en leer ons om daagliks daarvoor te bid.
Ons kan inderdaad ons diepste fisiese behoeftes
aan Hom bekend maak. En Hy sorg daarvoor.
Maar is dit al waarvoor ons Jesus “benodig”?
Is jou diepste verhouding met die Here werklik oor Brood,
of oor brood...?
Is Hy bloot jou brood verskaffer,
of is Hy werklik vir jou die Brood van die lewe?
Sê jou lewe werklik wat jy met jou mond hieroor sê?...
Ernest