Jesus wou nooit op aarde die kollig op Hom trek nie.
Hy wou verseker nie in die kollig wees nie.
Hy wou nooit ‘n skare-trekker wees nie.
In Johannes 6 wil hulle Hom koning maak,
na sy voorsiening van brood en vis.
Vers 15: “Toe Jesus sien dat hulle Hom met geweld wil
koning maak, het Hy verder die berg opgegaan, Hy alleen.”
Die skare wou ‘n nuwe koning hê,
wat elke dag brood sou gee.
Dit is merkwaardig dat die skare dit met geweld wil doen!
Jesus weier om aan die mense se skewe verwagtinge
te voldoen.
Hy is nie die Messias wat moet kom voldoen aan
húlle en ons verwagtinge nie.
Jesus is nie daar om ons selfsugtige behoeftes te bevredig nie.
Dit is nie waarvoor Hy gekom het nie.
Maar dit is waarvoor ons Hom wil gebruik, misbruik.
Jesus is nie in die eerste plek ons brood-voorsiener nie.
Hy is die Brood wat ewige lewe gee!
Daarom gee hy pad as die skare Hom hulle Brood-Koning wil maak.
Hy is die Here, God,
wat op sy eie terme verstaan en gedien moet word.
Jesus is nie in ons diens nie. Ons weet dit.
Maar ons bid en tree op asof dit so is.
Kom ons verootmoedig en ondersoek onsself hieroor...
Ernest