Hebreërs 12:1 sê:
“…..laat ons die wedloop wat vir ons voorlê,
met volharding hardloop…”
Mens pak partykeer iets aan wat jou heeltemal verras,
oor wat dit van jou eis in terme van volharding.
Jy gaan op ‘n staptog en dink dit gaan jou so vyf ure neem.
Jy begin met entoesiasme.
Maar dan begin die roete kronkels maak.
Dit het jy nog op die “GPS” gesien.
Maar dit het niks gewys van die modderige gedeeltes nie,
waardeur jy moet ploeter nie.
Jy kon ook nie die steiltes op die “GPS” raaksien nie.
Dit het ook nie vir jou gesê hoe warm dit gaan word nie.
Of van die bome wat omgeval het,
en die pad langs die rivier versper het nie.
Nou moet jy alternatiewe roetes deur die bosse beur.
Naderhand het jy geen idee hoe lank dit jou nog gaan neem nie!
Hoe laat gaan jy daar aankom?
Gaan die donker jou oorval?
Maar daar is nie omdraai alternatiewe nie.
Volharding is nou die groot woord!
So is dit dikwels in ons geloof ook.
In ons wandel saam met die Here, is die pad nie altyd net maklik nie.
Ons begin ook die lewe saam met die Here met groot entoesiasme.
Maar struikelblokke en versoekings kruis ons pad.
Ons val vas in modderige traagheid.
Jy wil soms net daar bly staan.
Maar jy kom weer in beweging.
Jy beur vorentoe.
Ons va ookl hard oor die versperrings van hoogmoed en selfverheffing.
Ons raak onseker oor die roete, en die aankoms, en die lig of donker….
Maar jy beur in die rigting waarin jy moet!
Jy weet waar jou bestemming is!
Volhardend!
Jy weet wat vir jou in die ewigheid wag.
Jou erfenis by God.
Jy weet jou bestemming is seker!
Volhard!
Ernest