Dikwels is dit vir mense belangriker wat Jesus
vir hulle kan doen, as dat hulle Hom volg en aanbid.
Die groot skare wat by Hom brood gekry het,
wil Hom dadelik koning maak!
Johannes 6:15 sê toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld
wil koning maak, het Hy verder die berg opgegaan, Hy alleen.

Maar die skare hou aan om Hom te soek.
Toe die soekende skare later vir Jesus raakloop,
het Hy dadelik hulle vals motiewe ontbloot in Johannes 6:26:
“Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My,
nie omdat julle die wondertekens gesien het nie,
maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.
Die skare mis die ware aard van die wonderteken,
want hulle wil net nog brood hê.
Jesus kan vir hulle die groot voorsiener wees.
Indien hulle met die regte ingesteldheid na die vorige dag se
wonderteken gekyk het, sou hulle vir Jesus as Seun van God
ontdek het. Dan sou hulle Hom as Here aanbid,
en volg vir die lewe, en nie vir brood nie.
Hulle sou Hom ook nie as politieke heerser probeer aanstel het nie.

Om Jesus te soek...Wat beteken dit vir jou? Wie of wat soek jy?
As jy die Here soek om Hom te volg as die Here van jou lewe,
sal jy altyd vir Jesus vind.
Indien jy egter iemand soek om jóú besigheid winsgewend te maak,
of om altyd jóú span te laat wen,
of om jou politieke oortuigings te dien,
of om net maar brood op jou tafel te sit,
dan gaan jy Jesus as Here misloop.
Dan is ons maar net deel van hierdie skare wat Jesus gesoek het.
En dit is ‘n tevergeefse soektog.

Indien jy opreg op soek is na die lewe wat Jesus gee,
dan sal Hy jou “raakloop”!
Die regte soektog laat jou die Hére vind,
en nie net antwoorde en oplossings wat vir jóú belangrik is nie.
So kom jy tot rus in sý heilige teenwoordigheid.
Saam met Tomas roep jy dan in verwondering uit:
“My Here, en my God.” – Joh. 20:28.

Ernest