Tydskrifte is vol van die “rich and famous”.
Foto’s van hulle troues, babas,
en wat nog alles word gereeld gepubliseer.
Natuurlik om ons op hoogte te hou van die
mense wat ons bewonder en op trone sit.
Daar is ook artikels oor hulle skandes,
en verslawings, en mislukte verhoudings.
Mense word nie net deur ons op trone gesit nie.
Ons probeer ook dikwels self op trone kom.

Feit is, mense is nie gemaak om op trone te sit,
en deur ander aanbid te word nie.
In Handelinge 10 het Petrus ‘n baie godsdienstige
man in Sesarea gaan besoek.
Toe hy daar aankom het die man voor Petrus gekniel.
Petrus het dadelik vir hom gesê om op te staan,
omdat hy wat Petrus is, ook maar self net ‘n mens is.
Maar ons kry mense soos Nebukadneser,
in die boek Daniël, wat net nie genoeg kan kry van
mense se aanbidding en eer nie.

God laat nie sulke menslike verwaandheid toe nie.
Ons moet eers onsself verloën,
voordat ons Hom alleen kan aanbid.
So baie mense wat op die troon van hul eie lewe sit,
kom tot ‘n val. God wil daardeur hulle tot die besef
bring dat Hy alleen aanbid moet word.

Ons moet dit ook besef in ons daaglikse lewe,
en nie probeer om onsself te verhoog nie.
Ons hoor dikwels hoe mense met smaak vertel
hoe hulle hierdie of daardie persoon oor die
telefoon op sy plek gesit het.
Of hoe hulle by die toonbank vir klagtes hulself
gehandhaaf het, en voor almal vir iemand vertel
het wat hulle van hulle en hulle diens dink.
Ons kan steeds sulke probleme oplos,
maar met nederigheid en beslistheid.

Ons moet nie daarop ingestel wees om net ons eie
aansien te bevorder nie,
maar met ons hele lewe heenwys na Christus.
God alleen sal ons verhoog wanneer ons nederig
voor Hom leef, Hom alleen aanbid,
en met ons hele lewe heenwys na Hom.

Hy sal ons op die troon laat sit...!
Openbaring 3:21: “Elkeen wat die oorwinning behaal,
sal Ek saam met My op my troon laat sit,
net soos Ek ook die oorwinning behaal het
en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”
Wat ‘n buitengewone en wonderlike belofte.
Weerstaan die versoeking om jouself te verhoog,
en jouself te handhaaf,
veral ten koste van ander mense.

Ernest