Het jy ook agtergekom ander mense het
meer foute as jy? Dit is dikwels hoe ons dink.
Ander se foute is ook karakterfoute.
Myne is slegte omstandighede.
Ander se foute is moeilik om te vergeef.
Myne is maklik verskoonbaar.
Ek onthou ander se foute vir lank.
Ek vergeet myne gou.
Ek sien ook ander se foute makliker raak as my eie.
Dit neem ook die Here baie langer om my te oortuig
van my verkeerde persepsies,
as wat dit my neem om dit te skep.

Vooroordeel lê so diep in ons hart.
Ons het soveel blinde kolle in ons lewe,
soos die voertuig wat jy nie in jou kantspieël raaksien nie.
Oor onsself en ons foute is ons dikwels siende blind
en horende doof.
Die Heilige Gees moet ons diep oortuig van ons
blindheid en doofheid ten opsigte van onsself.
Ons kom dit nie eers self agter nie.
Die Here Jesus het ons herskep om werklik
bewustelik in sy teenwoordigheid te leef,
veral bewus van ons eie foute. En ons moet dit bely.
Daarom moet ons minder foutvinderig wees.

Ons moet meer begrip hê vir mekaar,
en meer verdraagsaam wees teenoor mekaar.
So sal ons sy Naam op grondvlak groot maak.
Aanvaar ander mense met oop arms in Jesus se Naam.
Besef dat die Heilige Gees steeds besig is
om aan hulle te vorm, soos aan my!

Matteus 7:3 “Waarom sien jy die splinter raak
wat in jou broer se oog is,
maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”

Ernest