Die Bybel sê so gereeld vir ons dat ons die lot
van armes en verdruktes moet raaksien,
en ons oor hulle moet ontferm.
Die profete praat gereeld met die mense wat
oënskynlik baie godsdienstig is,
maar liefdeloos en blind lewe ten opsigte
van mense wat sosiale onreg beleef.
God self is baie besorg oor mense wat te na gekom word,
verdruk word, en onreg moet verduur.
En die Bybel sê gereeld dit is die wat het,
wat dit doen met die wat nie het nie.
Die rykes verdruk die armes.
Die magtiges verdruk die wat nie mag het nie.
God ontferm Hom oor weduwees en weeskinders,
oor vreemdelinge en randfigure.
Lees maar Psalm 146 en Jesaja 58.

Hoekom ignoreer ons die randfigure in die samelewing so maklik?
Die Prediker veronderstel dit is omdat dit so maklik is,
want hulle is in ons oë onbelangrik!
Armes het nie ‘n stem nie. Hulle het nie invloed nie.
Hulle opinies tel nie vir ons nie. Ons luister nie na hulle nie.
Ons dink nie hulle het wysheid nie. Wat weet hulle nou?
Daarom gee geleerde en belangrike mense selde aandag
aan mense wat op die rand lewe.
Ons slaan eerder munt uit hulle.
Hulle kan ons help met goedkoop arbeid.
Of hulle kan die mense met mag, die politici,
help met broodnodige stemme, en dan weer vergeet word.
Die Prediker sê ons moenie blind wees vir die waarde wat
hierdie mense vir God het nie.
Daar is net mooi geen verskil in my waarde vir God,
en hulle waarde vir God nie!

Ons moet ook nie blind wees vir die lewenswysheid
wat ons by hierdie mense kan kry nie.
Eenvoudige mense wat al vergeet het wat ons nog moet leer.
Om werklik mededeelsaam te wees. Om werklik met niks,
steeds vir ander te sorg.
Prediker waarsku dat ons krag en mag en welvaart ons verblind!
Prediker 9:16: “Wysheid is wel beter as krag,
maar die wysheid van die arme word geminag,
en niemand luister na wat hy sê nie.”
Eenvoudige mense beskik meer dikwels oor die mees
aard-skuddende wysheid en die uitleef daarvan,
as mense met welvaart, mag en krag.

Paulus vertel vir ons aan die begin van die eerste Korintiër brief:
Die wysheid van God word juis aan die eenvoudiges
van hierdie wêreld gegee om die magtiges en rykes te beskaam.
Maak vandag jou oë en ore oop om by die randfigure
in die samelewing te leer wat God deur hulle vir jou wil leer.
Oor die lewe vir Hom!
Oral verpak God hemelse waarhede by eenvoudige mense
wat jou pad kruis. Moenie verby hulle lewe nie.
Moenie hulle ignoreer nie. Dien hulle met liefde.
Eenvoudiges wat jou kan leer om te lewe.
Luister fyn. Sien. Leer by God se mense.
En leef!

Ernest