As iemand ooit ‘n geestelike “celebrity” vir sy volk kon wees,
dan is dit Dawid. Maar in plaas daarvan dat hy na die eer soek,
en die lig op hom laat val, wys hy heen na God wat
alles doen en al die eer moet kry. Behalwe dat hy die koning is,
en baie goed musiek kon maak en komponeer,
was hy ook nog ‘n dapper kryger!
Dawid en sy manne was dapper krygers.
Geen vyand kon voor hulle standhou nie.
Dawid het spoedig wêreldwyd bekend geword.
Ons lees dit in 1 Kronieke 14:17.
Maar hy gee alle eer aan die Here.
Dit is alles aan die Here te danke!
Hierdie magtige man bly baie klein voor God.
Hy begin nie homself as ‘n geestelike “celibrity” sien nie.
Hy wil ook nie hê die mense moet die eer aan hom bring nie,
maar aan die Here.
Hy doen moeite dat mense nie sê hulle was by hierdie of
daardie aanbidding geleentheid waar “Dawid” opgetree het nie.
Hulle moet eenvoudig net van God getuig!
‘n Goeie voorbeeld van hoe Dawid klein voor die Here wou bly,
was toe die ark teruggebring is na Jerusalem.
Groot feesvieringe volg daarop.
Dawid het aan elke man en vrou ‘n geskenk van kos uitgedeel.
Hy het die Leviete gevra om voor te gaan in ‘n reuse
aanbidding fees. Hulle het ‘n lied gesing wat Dawid self
spesiaal gekomponeer het.
Hierdie lied in 1 Kronieke 16 is een van die heel mooiste
lofliedere in die Bybel. Dit leef van lof en nogmaals lof aan God!
1 Kronieke 16:29: “Prys die Here om die eer van sy Naam!
Kom na Hom toe, bring vir Hom offers.”
Dawid se lied is ‘n belydenis van God se groot krag.
Van God se wonderwerke.
Sy heerskappy oor die ganse aarde word besing. Vrolik besing.
God se ingrype word besing.
Sy grootheid oor al die afgode van ander volke.
Dawid nooi almal uit om by Hom in te val met lof aan God alleen!
God alleen moet aanbid word terwyl die aarde voor Hom bewe.
Daarom roep die volk aan die einde van die lied uit: “Amen!”
Hier is geen sprake van eer aan Dawid,
of dat hy nou geestelike “celebrity” status kry nie!
Kom ons dink ook mooi oor hoe ons oor ander dink
wat die Here verkondig.
Of dit sangers, predikers of sprekers is.
En kom ons onthou wat God daardeur vir ons gee.
En kom ons fokus met eer en lof aan God op God alleen!
Ernest