“Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
met alles wat ek is wil ek jubel oor die lewende God.”
– Psalm 84:3.
In Johannes 6 lees ons dat Jesus die lewende Brood is.
En Jesus sê self dat elkeen wat Hom as lewende Brood eet,
nooit weer sal honger kry nie.
Maar hier vertel Psalm 84 nou van die psalm skrywer se
diep verlange en groot honger na die Here!
Albei die waarhede is in dieselfde asem waar.
Enersyds is Jesus alleen genoeg.
Hy alleen gee vir altyd die ewige lewe.
Hy stil ons geestelike honger vir altyd.
Andersyds, in hierdie lewe op aarde,
binne die realiteite van hierdie lewe,
is daar ‘n nimmereindigende honger vir nog meer
van die Here se heiligheid en sy teenwoordigheid.
Dit is die geheim van geestelike groei!
Die Heilige gees oortuig ons van die genoegsaamheid
van Jesus alleen. Dieselfde Gees oortuig ons van ons
voortdurende afhanklikheid van God en ons smagting na Hom.
Ons is diep oortuig en diep dankbaar dat ons kinders van God is.
Tog is ons ook diep ontevrede met ons dikwelse kleingeloof,
ons twyfel, ons kommer, ons sonde waarmee ons worstel...
Ons liefdeloosheid en ongehoorsaamheid maak ons
dikwels desperaat. Daarom verlang ons na die Here!
Ons wil deurlopend in sy teenwoordigheid leef, bewustelik.
Psalm 84 verwoord dit. Lees dit.
Dit dring ons om God se teenwoordigheid net elke dag
nog meer op te soek!
En ons wil saam met die Psalm, meer as ooit,
oor sy teenwoordigheid jubel!
Ernest