In Jesus se teenwoordigheid wen teenoorgesteldes.
Vir Hom is dit wat ons as klein sien, die nuwe groot!
Die wat ons agter in die ry sit, plaas Hy voor in die ry.
Kinders is in die geloof die nuwe grootmense!
Swak, sien ons by Paulus, is die nuwe sterk.
Die wat laastes is, is nou die eerstes.
Alles ruil om wanneer Jesus se evangelie grondvat.
Hy keer die bestaande ordes om.
Hy draai die wêreld op sy kop.
Die uitdaging vir ons wat in Hom glo, is om hierdie
nuwe orde in die koninkryk van God baas te raak.
Want vir talle kerkmense is groot in hulle oë steeds groot.
En die eerstes is steeds eerste.
Romeine 12:2 sê ons moet toelaat dat God ons verander
deur ons denke te vernuwe.
Efesiërs 4:23 sê ons moet nuut kyk en nuut dink.
Die regte geestelike groei begin by ‘n nuwe verstaan
van die Here as die een wat vir die kleine en die swakke sorg.
Wie groot wil dink sonder die Here, mis geestelike groei.
Wanneer ons minder in onsself word,
leer ons om regtig in verwondering op te kyk na ons groot God!
Wanneer ons weet Hy sorg vir die kleinste in sy skepping,
vind ons ware rus aan sy voete.
Psalm 84:4: “Selfs ‘n mossie het ‘n nes en ‘n swaeltjie ‘n plek
vir haar kleintjies daar by U altare, Here, Almagtige,
my Koning en my God!”
Wanneer ons so klein en weerloos soos mossies raak
voor die Here, plaas ons al ons hoop en verwagting
op die lewende God,
op Hom alleen om ons Redder en ons God te wees.
Dan sien ons God uit ons posisie raak.
Klein skuil by Gróót!
Ons gebede verander van selfsugtige versoeke
na lof en eer aan God.
Na dankie en nogmaals dankie!
Jubel liedere word ons lewe.
Geborge in die teenwoordigheid van God!
Ernest