Daar is deesdae nogal baie TV programme
wat gaan oor “makeovers”.
‘n Huis of ‘n motor word gekies,
en kry ‘n totale “makeover”.
BBC het so ‘n program: “Extreme Makeovers”.
Die huis word dan oorgedoen in 7 dae!
Dit is besonders om te sien hoe verbaas en dankbaar
die mense is wanneer hulle hul huis terugkry.
Totaal nuut! Nie heeltemal nie. Basiese strukture word behou.
Die transformasie van “krot na paleis” is elke keer verbasend.
Ons word ook totaal getransformeer, nee, meer nog,
van voor af herskep...tot Koningskinders van God!
Hier is dit werklik totaal nuut! Nie net ‘n “makeover” nie!
Kyk hoe treffend sê Die Boodskap dit in 1 Petrus 2:9-10:
“...Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om
na die helder lig te kom waar Hy is.
Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand
iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense.
Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid
regtig beteken nie, maar julle het by God daardie
liefde en goedheid leer ken.”
Ons het niks gehad nie, was niks nie,
en was nêrens heen op pad nie!
Ons het ook nie eens geweet dat ons die ware lewe mis nie.
Tot die dag wat God ons teruggeneem het deur die Gees.
Petrus sê hierdie is ‘n proses waarin ons saam met God
betrokke is, en daarom gee hy ons raad in vers 11:
“My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld.
Eintlik kuier julle net ‘n rukkie hier. Onthou dit,
want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld
wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal
deurmekaar te krap. Oppas daarvoor.
Moenie die verkeerde dinge die geringste kans
in julle lewe gee nie.”
Ons moenie teen die Heilige Gees werk,
en Hom keer in die transformasie nie.
God maak jou inderdaad totaal nuut!
Ernest