God vergewe ons sonde keer op keer.
Beteken dit nou dat ons maar kan aanhou sonde doen?
Dit sou alles behalwe opreg wees,
in jou verhouding met God.
God sal nie toelaat dat ons sy vergifnis,
en die prys daarvoor, Jesus se sterwe aan die kruis,
so goedkoop maak nie! Sy genade is nie goedkoop nie.
Dit sou ‘n koggel-lewe wees teenoor God.

1 Petrus 2:16 sê: “God het julle vry mense gemaak.
Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te
leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee,
julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in
alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie.”

Ja, ons gaan aanhoudend foute maak.
Dit kan egter nie maar net ‘n verskoning wees nie.
Ons moet in alle opregtheid daarna streef met ons
hele lewe om vir die Here te leef.
Hier is duidelik ‘n baie belangrike waarskuwing:
moenie die vryheid misbruik wat God jou gee nie.

Bring tyd saam met God deur in sy Woord,
en ontdek wat sy wil vir jou is.
Die Heilige Gees sal jou lei oor hoe om meer en meer
toegewy aan die Here te leef!
Vers 17 kom sommer dadelik met praktiese riglyne:
“Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd
en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle
liefdevol en lojaal wees.
Erken en eer God as die groot en magtige heerser.”

Wat God van ons vra is nie ‘n wollerige onsekerheid nie.
Dit is om prakties Hom bo alles lief te hê en te dien,
en ook ons medemens met God se liefde lief te hê.
Petrus wys dat dit sommer hier naby ons begin!
Hier waar ons maskers af is en almal weet wie ons is.
Hier waar die remme nie lekker werk nie,
en ons maklik met mekaar bots.
Kom ons soek opreg na God se wil, saai sy liefde,
wees die minste,
en “erken en eer God as die groot en magtige Heerser.”

Ernest