Kan ons regtig in alle omstandighede reg optree?
Dit is maklik as alles reg verloop sonder probleme.
Maar wanneer dinge verkeerd verloop,
en jy raak opgewerk, wat dan?
Dan is dit verseker nie maklik nie,
en ons gaan dit nie altyd regkry nie.
Petrus trek dit deur na die praktyk toe in 1 Petrus 2:21
wanneer hy praat van moeilikheid tussen jou en die
persoon vir wie jy werk, en wanneer hy jou behandel
asof jý die fout gemaak het:
“As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans
gestraf word, lyk die prentjie anders.
As julle nie dan self lelik begin optree nie,
maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie
dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees.”
Ons dink baie keer in so ‘n situasie ons het die reg om
ons speelgoed rond te gooi. Ons het dan presies gedoen soos
ons werkgewer in die vorige konflik gesê het ons dit moet doen.
Dit is hulle wat nou verander het en verkeerd optree.
Maar volgens hierdie Woord van God is dit nie hoe ons
nou moet optree nie. Moenie jou goed rondgooi nie.
Maak nie saak hoe reg jy is, en hoe verkeerd die ander is nie,
jy moet steeds soos ‘n kind van God optree!
Moenie afdaal na ‘n vlak waar God jou nie wil hê nie.
Verdra die onreg en tree op soos God wil hê jy moet optree.
Dit gaan nie oor die handhawing van jouself nie,
maar die wil van die Here.
Spreek die onreg op so ‘n manier aan dat jy God daarmee eer.
Dit beteken nie dat jy toelaat dat mense elke keer
op jou trap nie. Dit gaan oor hóé jy op die onreg reageer.
Ons moet onreg aanspreek en ook probeer voorkom.
Jou optrede moet egter wys dat jy ‘n kind van God is.
Weereens: Moenie na ‘n vlak daal waarheen mense
jou wil trek nie. Bly op die vlak waar God jou wil hê.
Dit is verseker nie maklik nie.
Veral as dit gepaard gaan met magsmisbruik teen jou.
Maar dit is juis hier waar ons op God moet vertrou!
Hy weet presies in watter situasie jy as sy kind is!
Vra Hom om jou te seën met wysheid.
Veral as jy teen die onreg moet opstaan.
Onthou ook dat die wêreld jou met ‘n vergrootglas dophou
in so ‘n situasie. Hulle kyk of ons maar soos hulle optree,
en of ons so anders is as wat Christus ons nuut gemaak het!
Die Heilige Gees sal jou verseker help as jy bo alles God wil eer.
Christene kry nie voorkeurbehandeling in die wêreld nie,
inteendeel! Besef dit. Die wêreld toets jou.
Die Bose wil jou ook daardeur laat val.
God wil jou daardeur hoër optel!
Ernest