Wanneer jy deel word van ‘n koningshuis moet jy
leer om op sekere maniere op te tree.
Ons lees dikwels hoe nuwe lede in koningshuise moet
aanpas by die nuwe etiket en reëls wat vereis word.
Nie altyd lekker nie. Ontneem ook dikwels vryheid
en vrymoedigheid.
Wanneer ons deel word van die Christen-familie,
is daar ook veranderinge wat gemaak word.
Ons is nou nie meer koning van ons eie koninkryk nie.
Ons word nou deel van God se koninkryk.
Ons dien Hom as Koning!
En dan is die nuwe lewe 1 Petrus 2:22:
“As Christene word daar van julle verwag om
soos Jesus te leef. Hy het vir julle ‘n voorbeeld gestel
hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het.”
Dit is nie so maklik uitvoerbaar nie.
Ons kom uit ‘n sondige natuur van ons eie koninkryk
waar ons die middelpunt was. Ons het onsself gedien!
Nou kom wys Jesus vir ons wat dit beteken om
vir God te leef, en ter wille van ander te leef!
Hy het sy lewe daarvoor gegee. Hy het homself
aan die kruis laat vasspyker daarvoor.
Daarom sê vers 22 verder: “...Onthou dan,
Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God
nie gehou het nie.”
Wanneer jy jou opdrag uitvoer om soos Jesus te leef,
sal jy met jou hele wese daarna strewe om net te doen
wat God behaag.
Ons gryp so maklik terug na ons ou manier van lewe.
Teenoorgesteld van wat Jesus doen.
Ons eie begeertes neem so maklik weer oor.
Die belangrike is nou:
as ons nie Jesus se lewe goed leer ken nie,
weet ons nie wat van ons verwag word nie.
Vers 22 sê tog: “As Christene word daar van julle verwag
om soos Jesus te leef...” Hy het die voorbeeld gestel!
Ons moet opreg hope wysheid van die Here vra,
om die regte keuses te kan maak.
Kyk net wat doen Jesus in vers 23:
“Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het
nie terug beledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het,
het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie.
Hy was tevrede om alles in God se hande te los.
God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur,
sal gebeur.”
Ons maak eie planne, in plaas van op God te vertrou.
Leer daagliks meer oor die lewe van Jesus!
Leef dan soos Hy van jou vra om te lewe.
En dan moet ons onthou om die res in God se hande te laat.
Hy sal regtig sorg!
Ernest