Ons kan eenvoudig nie uitgepraat raak
oor 1 Petrus 2:22-25 nie!
God se wonderlike dade met ons word hier beskryf!
Dit is net nie moontlik om dit te begryp en dan
aan te hou leef asof dit nie gebeur het nie.
As dit sou gebeur is daar groot fout in ons lewe.
Dan het ons in ‘n slaap verval wat ons die lewe sal kos!
Dan het ons so gewoond geraak aan hierdie
magtige boodskap van God,
dat dit geen impak meer op ons lewe het nie.
Ons moenie die stasie van die lewe mis omdat ons
op die trein aan die slaap geraak het nie!

Hoe kan ons wakker bly en lééf?
Vers 24 sê: “Hy wil egter graag hê dat julle reg sal leef
soos God van julle verwag en dat julle nie
verkeerde dinge sal doen nie.”
Dit is wat God wil hê. Ons moet sensitief wees vir die
leiding van die Heilige Gees.
Dit begin alles by ‘n wilsbesluit!
Dit begin by ‘n keuse wat jy maak.
Ek wil God se wil uitleef,
en daarom nie doen wat nié sy wil is nie!

Ons besef heel dikwels dat ons verkeerd doen.
Die Heilige Gees help ons.
Baie keer weerstaan ons Hom en volg ons eie kop.
Ons kan egter deur die leerproses van die Heilige Gees
met ons ontdek en weet waar ons ongehoorsaam was.
In die toekoms draai ons dan nie weer op daardie
paaie af nie!
Soos ons in die gimnasium oefen om sterker spiere te kry,
moet ons in die geestelike lewe oefen,
om God se wil te doen.

Petrus gee nog meer raad in vers 24:
”...Nee, julle hoef slegs voluit vir God te leef.” Dis al!
Dit is ‘n lewenskeuse en word gedoen in die krag van
die Heilige Gees wat jou geestelike spiere laat groei!
Ons kan nie deeltydse Christene wees nie!
Ons kan nie net op sekere dae of in gemaklike situasies
voluit vir die Here leef nie.
Daarom is ons inderdaad in ‘n geestelike gimnasium,
saam met die Heilige Gees wat ons daar lei in die waarheid.
Kom ons gebruik al ons energie,
om voluit vir die Here te leef!

Ernest