Hebreërs 5:14 sê:
“Vaste kos is vir grootmense,
vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring
geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.”
Vers 13 sê iemand wat nog van melk lewe,
kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie,
want hy is nog ‘n kind.

Wanneer ons klein babatjies is kan ons nog nie loop nie.
So teen ‘n jaar oud staan babas teen alles op,
om self te begin loop. Eers help ons die baba om
aan die loop te kom, maar as ons nie later die baba se
hande los nie, gaan die baba nie gou leer om self te loop nie.
Dit neem ook ‘n tyd voordat ‘n baba oorskakel van melk kos
na vaste kos.
God se doelwit is dat elkeen van sy kinders nie babas
in die geloof bly nie, maar dat ons geestelik volwasse sal word.
Daarom is vaste kos vir volwassenes, wat oor insig en wysheid beskik,
en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.
Om nie in tye van krisis hul geloof in God te verloor nie.

Waarom wil God hê ons moet geestelik volwasse word?
Sodat ons kan onderskei wat van die Heilige Gees kom,
en wat misleiding van die Bose is.
Sodat ons mekaar kan help. En sodat ons saam met God kan regeer.
Daagliks word ons geloof getoets en ons onder druk geplaas.
Die vyand wil ons laat twyfel in God se goedheid.
Wanneer ons volwasse in ons geloof is,
sal die storms van die lewe ons nie onderkry nie.
Ons geloof en vertroue in God sal nie deur omstandighede
vernietig word nie. God sal ons gebruik om ander na Hom te lei,
en sy koninkryk uit te brei.

Paulus sê aan die mense in Kolossense 4:12 dat Epafras
in diens van Christus Jesus staan, en ernstig vir hulle bid
dat hulle “staande mag bly, geestelik volwasse
en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God.”
Paulus is in die tronk as hy die brief skryf.
Hy kan ander mense bemoedig en aanmoedig,
ten spyte van sy omstandighede,
omdat hy geestelik volwasse is.
Sy omstandighede verhoed nie sy bruikbaarheid vir God nie!
Dit is God se wil vir elkeen van ons.
Groei in geestelike volwassenheid!

Ernest