Waar bly jy?

Vra maar vir enige eiendomsagent,
of vir enige koper of verkoper van eiendom,
dit gaan oor die regte adres.
“Location, location, location...”, soos die Engelse sê.
Maar die belangrikste adres is jou geestelike adres!
Waar bly jy met jou hart?

“Bly in My”, sê Jesus.
Dit is sy opdrag aan alle gelowiges.
Dit gebeur nie vanselfsprekend nie.
Ons lewe wys dat ons adres nie altyd Jesus is nie.
Ons ware huis is daar waar ons prioriteite is.
Die regte adres is waaroor die lewe gaan.
Daarom nooi Jesus jou uit om van adres te verander,
en doelbewus in Hom te bly!

Dit is egter nie net ‘n uitnodiging nie, maar ‘n opdrag!
“Bly in My!”
Dit gebeur prakties wanneer ons toelaat dat
Jesus se woorde in ons bly.
Johannes 15:7: “As julle in My bly, en my woorde in julle,
vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.”
Met ander woorde, dit gaan ook oor gehoorsaamheid.

Liefde vir die Here en gehoorsaamheid aan Hom,
loop hand aan hand.
Die een is nie moontlik sonder die ander nie.
Wanneer ons in Jesus bly verander ons hele agenda.
Dan verskuif al ons aandag na ons hemelse Vader!
Wanneer jy in Jesus bly, gaan dit oor God!
Dáár kan ons vra net wat ons wil hê, en dit sal gebeur,
want dáár gaan dit oor God en nie oor mý nie!
Gebed in Jesus se huis is op God gerig!
En hier word gebed aangedryf deur liefde,
en gehoorsaamheid, diensbaarheid,
en die uitbreiding van sý koninkryk!

Waar bly jy?
Ons het dikwels baie ander adresse,
waar ons uithang en uitkamp...
Jesus sê nou wéér vir ons:
“Bly in My!”

Ernest