Die wêreld van godsdiens word deur ons baie
kompleks gemaak deurdat ons wil leef met moets
en moenies.
Dikwels maak juis Christene dit ook moeilik vir mekaar.
Jy mag nie dit nie en jy mag nie dat nie...
Vir baie mense raak dit net eenvoudig oorweldigend!
Kerklike leerstukke, ordes, reëls en regulasies.
Preke en Bybelstudies vertel net meer en meer,
van wat jy moet doen.

Jesus help ons hiermee deur geloof in God en die
lewe saam met Hom te vereenvoudig.
Johannes 15:8: “My Vader word juis daardeur
verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”
Net dit!
Dit is die essensie van ons geloof.
Dit gebeur wanneer ons in Jesus bly.
Dan vloei sy lewenskrag in en deur ons.
Om vrug te dra loop hand aan hand met blý in die Here!
Bly in die Here is weer gelyk aan liefde vir God.

Hoe lyk hierdie vrug-dra prakties?
Jesus maak dit weereens eenvoudig:
Wees lief vir mekaar! Net dit!
Wees lief vir Hom en vir mekaar!
Vers 12 sê: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê
soos Ek julle liefhet.”
Hoe meer ons mekaar in liefde dien,
hoe meer wys die regte vrugte in ons lewe.
Hierin is Jesus ons voorbeeld.
Hy sê daar is geen groter liefde nie,
as dat iemand sy lewe vir sy vriende aflê – vers 13.
Vrugdra is gelyk aan praktiese dade van liefde.
Hierdie liefde is opofferend. Dit gee weg.
Dit hou nie terug nie. Dit dien. Dit dra op die hande.
Dit bedien ander met God se liefde.

Presies so eenvoudig is Jesus se opdrag.
Vrugdra verheerlik God.
Dan leef ons soos Jesus van sy dissipels verwag.
Eenvoudig en met oorgawe!

Ernest