Die Here roep ons om sy getuies te wees.
En daarin moet ons die verandering van mense
se lewens aan Hom oorlaat.
Ons moet uit die pad staan sodat die Here
op sy manier elkeen kan aanraak.
Dikwels wil ons nie net getuig nie
maar ook die Here se werk oorneem.
En ons is dan nie saam met Hom op pad nie,
maar in die pad.
Ons wil hê die Here moet doen soos ons wil,
en ons gebruik dikwels ons eie verhouding
met die Here as die norm.
Een van ons grootste uitdagings is om minder
van die Here se spasie op te neem.
Ons staan heeltemal te maklik die hele pad vol in sý werk.
Die profeet Jona is ‘n goeie voorbeeld hiervan.
Hierdie moeilike profeet het gereeld in die Here se pad gestaan.
Hy wil dinge doen soos hý dink die Here behoort te doen.
God wil hom in Nineve hê, vlug hy per skip Tarsis toe.
Wanneer God die stad Nineve wil red, wil Jona vuur en swael hê.
Wanneer God genade uitdeel, soek Jona oordeel.
Wanneer Jona met die skip wil wegvlug van sy roeping af,
sorg God dat hy oorboord gegooi word.
God het ‘n storm op die see laat opkom en wys vir die mense
op die skip dat dit as gevolg van Jona is. In Jona 1:14 bid die mense:
“Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie.
Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here,
U doen wat U wil.”
Toe gooi hulle Jona oorboord, en die see word kalm.
Die tragedie en ironie is net dat God die profeet oorboord
moes kry voordat diegene aan boord gered kon word.
So hoort dit nie. Maar so kan ons dikwels in God se pad staan!
Ons is nie gered om net daarna die pad van redding vir ander
te versper nie.
Die kuns van geloof is om klein voor ons groot en heilige God te wees,
en uit sy pad te staan wanneer Hy mense wil red
en verander soos Hý dit wil doen!
Ons kan nie aan God voorskryf hoe Hy moet werk nie.
Ons dink te veel ons weet presies hoé.
God wil ons gebruik soos Hy dit goed dink.
Kom ons volg regtig afhanklik van die Heilige Gees sý leiding,
dan hoef ons nie oorboord te gaan nie.
Saam met God op sý pad, en nie in sy pad nie...
Ernest