Jona word oorboord gegooi,
en dan sien ons nood leer bid.
Jona 2:2: “Jona het gesê:
“In my nood het ek tot die Here geroep,
en Hy het my gebed verhoor.
Diep in die doderyk het ek hulp gevra,
en U, Here, het my gehoor.”
Nood leer bid. Vra maar vir Jona.
Wanneer die mense hom oorboord gooi,
voorsien God ‘n vis om hom te red!
In hierdie vis kom hy opnuut tot inkeer.
Hy bely sy ongehoorsaamheid teenoor God.
Hy aanvaar weer sy roeping as gestuurde na Nineve.
God gebruik dikwels slegte omstandighede,
om ons terug te kry op sý koers.
Die Here is nie ver wanneer ons onkant of
uit posisie uit is nie. Hy is dan net so naby soos altyd!
Hy begin oor met ons. Hy begin voor met ons.

Die Here is nie klaar met ons as ons dink ons is
klaar met sy werk nie. Ons is nooit klaar met sy werk nie.
Leer hierdie waarheid by Jona.
Hy dink hy loop nou weg van God se roeping af,
dan loop hy weer in God se arms in!
Ons kan nie uit God se diens ontsnap nie.
Nie eers op ‘n skip na Tarsis of in ‘n vis se maag nie!
Ons is in die Here se diens. Sonder af tye.
Daar is ook nie deeltydse werk nie.
Doen voluit wat die Here van jou vra!
Groei klein genoeg voor God om altyd
bruikbaar vir Hom te wees.
Nie een van ons is te belangrik, te besig, of selfs te swak,
om ‘n gestuurde van die Here te wees nie.
Hy stuur jou waar jy leef en werk en speel!
Oral! Altyd!

Ernest