Ons sal dadelik sê: Soos die Here wil, nie soos ek wil nie.
Jona het dit seker ook gedink, oorboord, daar in die vis.
Ons sê dit maklik want ons weet dit is reg.
Maar doen ons dit!?
Kyk maar weer na Jona. Hy besef opnuut sy roeping.
Wanneer hy in Nineve aankom,
doen hy tot op die letter wat God hom beveel het.
Tog word dit spoedig duidelik dat sy hart nie daarin is nie.
Koud en klinies kondig hy aan dat Nineve nog net 40 dae
oor het voordat God se oordeel hulle finaal tref.
Net dit! Geen enkele woord van genade nie.
Geen hoop indien hulle dalk net tot bekering sou kom nie.
Dit is al wat Jona te preek het vir ‘n ganse stad se inwoners.
Hierna doen hy ‘n vreemde onverwagse ding...
Hy gaan sit buite die stad en wag vir die oordeel wat hy
aangekondig het.

Maar, Jona het hom met God misreken.
Hy het hom ook misreken met die feit dat die koning
en al die inwoners van die stad hulle sou bekeer,
nét op grond van sy eenlyn-boodskap.
God wat werk! Ten spyte van Jona!
Jona 3:9: “Miskien sal God van plan verander,
en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”
Net daar kom die mense tot bekering!
Hulle verootmoedig hulle voor God in die hoop dat
Hy sou afsien van sy plan om hulle te vernietig.
En God het ook.
Hy sien hulle aan in genade en sien af van sy plan.
Genade en vergifnis van God oorroep altyd sy oordeel,
altyd en orals waar mense hul bekeer.

God se eie profeet snap dit nie.
Hoe baie keer snap ons as God se kinders dit ook nie.
Dikwels wil ons oordeel uitspreek en sien,
eerder as genade en vergifnis.
Jona sit met ‘n dikmond as hy agterkom hy gaan nie
Hemelse vuurwerke, vuur en swael, sien nie.
God is steeds die God van genade.
Hy is groot en heilig, maar altyd steeds die God van redding.

Daarom moet ons klein genoeg groei,
sodat God groot genoeg deur ons kan werk!
So sal ons sy Vader-hart van liefde en genade ken en respekteer.
Ons is nie geroep om oordeelsvure aan die brnd te steek nie.
Ons moet aanhou om God se genade en liefde uit te deel,
ook wanneer ons vermaan en waarsku.
Ons moenie eenkant gaan sit met ‘n koue hart, soos Jona,
en wag op God se oordeel nie.

Ernest