Hoe baie is ons nie soos Jona nie.
Ons ervaar God se genade eerstehands,
soos Jona dit in die vis ervaar het,
en met sy eie oë gesien het toe God Nineve red.
Nogtans maak dit Jona nie sagter of meer genadig nie.
Ons tree dikwels dieselfde op in die dien van
ons eie belange.

Jona sit verbitterd buite die stad rond,
en wens selfs om dood te gaan. Nog meer,
hy probeer God selfs afdreig.
Dit is óf Nineve, of hy wat moet sterf. So voel hy.
Maar God word nie ingetrek in Jona se kleinlike
vergelding nie. Inteendeel! God is nie soos ons nie.
God se hart gaan steeds uit na Jona.
As ons kwaad en verbitterd is teenoor Hom,
reageer Hy nie op dieselfde manier terug nie.
Daarom laat Hy ‘n boom opkom om vir Jona
skaduwee te gee. Dalk sal dit Jona afkoel.

Helaas. Jona weier om sy eie idees ondergeskik
te stel aan God se wil. Hy is ‘n Israeliet wat nie
God se genade wil deel met ander volke nie.
In ons eie dag dink mense nog so rondom velkleur,
taal, afkoms. Mense dink dit van weerskante,
na weerskante toe. Ons struikel steeds oor ideologie.

God laat Jona se koelteboom sterf en sê vir Jona:
“Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy
nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie.
Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood.” Jona 4:10.
Hiermee sê God nogmaals vir Jona dat Hy die
reg en mag het om te doen wat Hy wil,
en verál om Hom oor sondaars te ontferm.

Dit is uiteindelik Jona se keuse of hy bereid is om God
op God se terme te dien.
God pas nie in ons boksies in nie. God tree nie op volgens
ons eie vooropgestelde idees of vereistes nie.
Veral nie ten opsigte van ander mense nie.
Dit het ons gesien met die mense van Nineve.
Dit sien ons ook in God se genade aan die misdadiger
wat saam met Jesus gekruisig is.
God kan doen wat Hy wil.
Maar God se eerste keuse is altyd
om sondaars genadig te wees.

Ernest