In die Amerikaanse sitkom “King of Queens”
word ‘n hond gebruik met die naam “Rocky”.
Hulle vier dan die hond se 28e verjaarsdag.
Op ‘n vraag van een van die karakters hoé
die hond so oud kan wees, is die antwoord dat
hy al ‘n paar keer vervang is met ‘n hond wat na
die eerste “Rocky” lyk. Hulle trek nou al by “Rocky 4”,
maar “...we don’t talk about such unpleasant
or uncomfortable things”. ‘n Ander karakter vra dan:
“What do you do with the truth then?”
Dan antwoord die eienaar van “Rocky”:
“We sweep it under the rug, where it belongs.”
Almal besluit toe saam: Daar is net een “Rocky”,
en hy is 28 jaar oud...

Op die geloofs terrein word belangrike waarhede
ook dikwels so onder die mat ingevee.
Een so ‘n “inconvenient truth”, ‘n ongemaklike waarheid,
is dat baie mense deesdae glo die evangelie moet sag
op die oor val. Dit moet niemand aanstoot gee nie.
Die evangelie moenie mense ongemaklik maak nie.
Maar: Daarmee wen irrelevansie!
Dan gaan mense ongestoord verlore.

Goddank dat baie gelowiges steeds kies om op Jesus se
gevaarlike roetes te lewe. Om nie in gemak sones te
verval nie. Om op ongemaklike waarheid-roetes te leef.
Die gelowiges wat so leef besef een belangrike woord:
Dringendheid!
Efesiërs 5:16: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid,
want ons lewe in ‘n goddelose tyd.”
Daar moet by ons ‘n heilige dringendheid wees wat daagliks
die kortste pad kies wat die Here aandui om mense na die
Here te lei en hulle genesing te laat beleef.

God self plaas ‘n rusteloosheid in sy kinders ter wille van
sy koninkryk en die uitbreiding daarvan. Ons kan dit onderdruk,
of die Here daarin beleef en optree ter wille van sy eer.
Wanneer ons toelaat dat die Gees ons rusteloos maak oor onreg,
goddeloosheid en verlorenheid rondom ons,
kan ons nie stilsit en hoop ander sal gehoorsaam wees
aan die Gees nie!

Die evangelie moet dringend geleef word!

Ernest