Wees versigtig met jou woorde.
Ons het eintlik nie ‘n idee hoeveel waarde
ons woorde kan hê, of hoeveel skade ons woorde
kan doen nie.
Benediktus, die kerkvader,
het gesê nederigheid het veral ook te make met
die regte en spaarsamige gebruik van jou woorde.
Spreuke 25:11:
“Goue appels wat in silwer gemonteer is,
so is die regte woord op die regte tyd.”

Om in die teenwoordigheid van God en ander
mense die regte impak te hê wat God eer,
moet ons nie ons eie wil luidkeels op almal afdwing nie.
Selfs al weet jy dat jy reg is, het jy nie daarmee die reg
om ander dood te praat nie.
En veral nie om hulle te verneder nie.
Moenie met jou woorde jou wil op mense afdwing nie.
Wees versigtig om gesprekke oor te neem.
Wees ook versigtig om almal rondom jou heeltyd
te korrigeer of te kritiseer.
Moenie elke rondte met jou tong probeer wen nie.
Ons kan so maklik self-geldend dink en wees.

Een mond. Twee ore. Luister twee keer. Praat een keer.
Ons hoor nie regtig wat mense vir ons wil sê nie.
Ons dink ons weet klaar wat hulle wil sê.
En dan dink ons aan soveel dinge wat ons terug wil sê.
Ons wil ook dikwels “beter doen” met ons storie.
“Dis nog niks, het jy gehoor...”, of “dit kon erger wees...”
Of, “laat ek jou vertel wat met mý gebeur het...”
Luister eerder, en praat minder.
Verdien respek deur te luister. Luister ook met jou hart!
Sorg dat skerp, onnodige of kru woorde nie oor
jou lippe kom nie.

Spreuke sê ons woorde moet met silwer omraam wees.
Ons verbale deel van ons lewe moet regtig tot seën
van ander wees.
Baie mense is ‘n woord-aangedrewe probleem! Regtig.
Hulle skud hulle woorde uit soos ‘n vere-kussing
se vere wat in die wind uitgeskud word.
En hulle kan nie ongedaan maak wat hul gesê het nie,
soos jy nie die vere kan terugkry in die kussing nie!

Ons moet lewe en vreugde spreek.
Die vraag moet altyd wees:
Hoe sal die Heilige Gees hierdie woorde van my
wil gebruik om mense te seën en op te bou?
Ons woorde moet magneties wees,
en mense na God toe trek.

Ernest