Soms voel dit of die enigste nuus in Suid Afrika
slegte nuus is. Misdaad, korrupsie, swak ekonomie,
werkloosheid, swak gesondheidsdienste, droogtes...
Vir baie mense het nuus die koerantopskrifte
op die lamppale geword. “Breaking News”,
soos CNN dit noem, smokkel met ons koppe.
Is daar enige ander nuus?
Selfs die wêreldnuus is nie goeie nuus nie.
Natuurlik is daar ander nuus! Baie goeie nuus!
Op Goeie Vrydag kan en moet ons fokus op God
se hoofnuus in sy koninkryk.
Hoewel Goeie Vrydag ‘n verskriklike Vrydag was,
is dit vandag nog die hoofnuus van die wêreld,
en sal dit so bly tot die wederkoms!
Dit vertel van God se nuwe lewenspad met die mens.
Kyk net na die hoofopskrifte in Lukas:
“Jou sondes is vergewe” – Lukas 7:48.
“Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” – Luk. 7:50.
Hierdie woorde van die Here skud die aarde
in terme van die mens se toekoms!
Dit volg nadat ‘n vrou wat ‘n sondige lewe geleef het,
Jesus se voete met haar trane natmaak,
en dit met haar hare afdroog.
“Gaan terug na jou huis toe, en vertel alles
wat God vir jou gedoen het.”- Lukas 8:39.
Jesus sê dit net nadat Hy ‘n bose gees uit iemand
gedryf het, tot verbasing van almal wat dit gesien het.
En die nuus gaan verder:
“Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend
gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.” – Lukas 8:39.
Die treffendste nuus op Goeie Vrydag, in Lukas 23:43:
“Ek verseker jou:
Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Hierdie aangrypende woorde van Jesus kom aan
die kruis wanneer ‘n misdadiger aan Hom vra om net
aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk aankom.
Hou vandag aan hierdie ewige goeie nuus vas,
op Goeie Vrydag! Dit bly die hoofopskrifte in jou lewe!
Sien daagliks God se goeie nuus raak, in mense,
en ook rondom jou. Praat en juig daaroor!
Word met jou eie lewe deel van God se nuus-opskrifte
in hierdie wêreld.
Nuus waaroor die engele sing.
Nuus waaroor God bly is.
Ernest