Gister, op Goeie Vrydag, het ons nagedink oor
die nuus-opskrifte van ons dag,
en die nuus-opskrifte van God se koninkryk.
Watter opskrifte skryf jy met jou eie lewe?

Die bekende St. Paulus-katedraal in Londen
is ‘n groot besienswaardigheid.
Die grafsteen van Christopher Wren,
die argitek van hierdie merkwaardige gebou,
is ook daar te sien. ‘n Latynse opskrif,
as deel van die memoriam aan hom, sê die volgende:
“Indien jy ‘n monument ter herinnering aan hom soek,
kyk rondom jou.” Wat ‘n getuienis vir sy werk as argitek.

Wat sal op ons stene staan in memoriam?
Watter woorde sal reg laat geskied aan hoe ons geleef het,
en sal nie net mooi woorde wees nie,
maar woorde wat regtig na ons lewe wys?
“Hy het lewenslank sport gekyk.”
“Sy het gedurig inkopies gedoen.”
“Hy het deurgaans gesê hy wil nog iets vir die Here doen,
maar dit was nou te laat.”
“Hy wou nog altyd tyd maak vir sy gesin...”

Dit sal treffend wees as mense jou sal onthou as
‘n roetewyser na die lewende God.
Die waardevolste opskrif oor jou lewe kan wees wanneer
Jesus sê: “Welkom in die heerlikheid van die Here.
Oor min was jy getrou, maar oor baie word jy aangestel.”

Kry jou nalatenskap van vandag af reg, soos God dit bedoel.
Elke dag se porsie lewe kom net op daardie spesifieke dag.
Vandag is nie ‘n inoefening vir môre nie. Dit is die lewe self.
Gryp dit aan. Koop die tyd uit.
Wees ‘n lewende seën vir elke mens rondom jou.
Jou geliefdes, jou vriende en kollegas,
elke mens wat in jou lewe jou pad kruis.
God word deur so ‘n lewe verheerlik wat vir Hom sout
en lig en suurdeeg in hierdie wêreld is.
Daar hoef nie vir jou ‘n monument opgesit te word nie.
Die impak wat jy namens die Here in mense se lewens maak,
sal jou monument wees!
En mense sal God daarvoor eer!

Ernest