Ons besef nie aldag wat die Here vir ons
in voorraad het nie. Ons leef uit so min,
terwyl die Here so baie vir ons bedoel.
Dit is soos om in ‘n 5 ster hotel te bly,
wat bed en ontbyt insluit,
en omdat jy nie weet ontbyt is ingesluit nie,
eet jy maar net koffie en beskuit in jou kamer.
En jy mis die onverbeterlike 5 ster ontbyt!

Ons is soms versigtig om die Here te volg
omdat ons bang is Hy gaan te veel van ons vra.
En so mis ons al die geestelike geskenke wat
God graag vir ons wil gee.
In Johannes 10 vers 10 staan Jesus Christus het gekom
sodat ons die lewe in oorvloed kan hê.
‘n Oorvloed van vrede. ‘n Oorvloed van vreugde.
‘n Oorvloed van liefde en ‘n oorvloed genade.

Dit is hierdie geskenke van God waarvan 2 Petrus 1:3 praat.
Hy sê sy goddelike krag het ons alles gegee wat ons
nodig het om ‘n lewe te leef wat aan Hom toegewy is.
Met ander woorde; omdat Jesus Christus in ons is,
het ons alles wat nodig is om die lewe volgens God
se wil te leef!
God se Woord is ‘n skatkamer vol geestelike geskenke vir ons.
Dit leer ons hoe om gehoorsaam te wees,
en ‘n lewe van oorvloed te geniet.
Geestelike oorvloed kan nie vergelyk word met
fisiese oorvloed nie. Fisiese oorvloed kan in ‘n oogwink verdwyn.
Maar geestelike oorvloed gee vir ons innerlike vreugde en vrede
wat niks anders vir ons kan gee nie.

Moenie bang wees vir wat dit jou gaan kos om agter Jesus
aan te stap nie. Sy teenwoordigheid in jou lewe is oorvloed,
om jou by te staan met elke opdraande,
en sy teenwoordigheid verseker ook dat jy die lewe in oorvoed
kan geniet, ongeag die uitdagings wat oor jou pad gaan kom.
Jesus het ons die lewe kom gee!
En dit...die léwé in oorvloed.
Nie die dinge van die lewe nie.
Die Lewe self!

Ernest