Ons het dikwels ‘n prentjie in ons kop dat
ons dag op ‘n sekere manier gaan verloop.
Betyds vir werk. Geen verkeersknope nie.
Geen probleme by die werk nie. ‘n Sonskyndag.
Maar hoe reageer ons as ons dag totaal verkeerd loop.
Raas ons? Skree ons? Styg die bloeddruk? Praat ons lelik?
Is dit die reaksie wat ‘n dag vol uitdagings van ons kry?

Staan stil en dink. Hoekom kry die lewe sulke negatiewe
reaksies uit ons? Is dit die dinge wat verkeerd loop wat
dit veroorsaak? Nee. Dit is iets agter die dinge!
Dit is die manier waarop ons na onsself kyk.
Ons sit onsself op die troon waar ons in beheer is.
En as dinge dan nie verloop soos wat ons dit beplan het nie,
en ons die beheer verloor wat ons wil hê,
dan veroorsaak dit , wat ons betref, chaos...

Het jy al aan die moontlikheid gedink dat God
hierdie “chaos” kan gebruik om jou te laat besef dat jy
nie die een is wat in beheer van jou lewe is nie.
Die een wat op die troon sit is in beheer.
En dit is nie jy nie! Dit is waarom jy buite beheer voel,
want jy dink jy is op die troon.

Ons vyand, die bose, wil hê ons moet chaos beleef.
Want hoe meer chaos ons beleef,
hoe minder ervaar ons God se vrede.
God beloof in Romeine 8:28 dat, as ons Hom toelaat,
Hy selfs hierdie poging van ons vyand sal gebruik om
dit vir ons ten goede te laat meewerk!
God sal die chaos gebruik om ons te laat besef dat ons
nie veronderstel is om in die middelpunt van ons lewe
te wees nie! Daarom moet ons elke dag ons onderwerp
aan God en sy wil. Dan word ons nie soos ‘n tolbos
in die wind rondgeslinger nie!

Moenie probeer om in beheer te bly nie.
God is klaar in beheer van jou lewe!
Moenie die verantwoordelikheid neem vir alles nie.
Jy kan nie. Net God kan, en Hy doen.
Die oomblik as jy voel jy dra te swaar,
staan terug en kry perspektief.
Moenie probeer dra wat God dra nie.
God wil jou versorg. Hy wil jou beskerm.
Hy wil hê jy moet Hom eer as die Koning,
wat in beheer is. Die Engelse gesegde lui:
“Let go, and let God”.

Ernest