1 Korintiërs 13:4 sê die liefde is geduldig.
Paulus leer ons in Efesiërs 4 dat ons altyd
geduldig moet wees met mekaar, en mekaar
in liefde moet verdra. Nie net verdra nie,
maar in liefde verdra.

In 1 Tessalonisense 5:14 staan dat ons met
almal geduldig moet wees.
Hoe kry ons dit reg om geduldig te wees?
Wanneer is genoeg nou genoeg?
Ons kan baie redes gee waarom ons besluit
ons trek nou die streep.
Ons hou daarvan om onsself te regverdig,
want dan voel ons nie so skuldig wanneer ons
nie met geduld kan volhard nie.

Paulus sê in Kolossense 1:11 dat God self vir ons
die krag gee om in alle omstandighede
met geduld te volhard. Dit is dus jou keuse...
God se nie net sommige omstandighede nie.
Hy gee ons die krag om in alle omstandighede
met geduld te volhard. Met geduld te volhard.
Nie uithou en ‘n gekners van tande nie.

Ons gee gou moed op met iemand,
terwyl God nog lank nie klaar is met so ‘n persoon nie,
en deur ons met hom of haar wil werk.
Jou geduld met iemand kan maak dat God sy werk
in daardie persoon kan voltooi.
God se geduld met ons, moet ons motiveer om
ook met ander geduldig te volhard.
Geduld beteken nie om aan te hou solank jý kan nie,
maar om met God se krag aan te hou wanneer
jyself al lankal sou wou ophou.
Wees geduldig...baie geduldig.
En eer God daarmee.
So werk Hy deur jou.

Ernest