Elkeen van ons kry 24 uur per dag.
Die een het nie min tyd, en die ander meer tyd nie.
By sekere dinge kan ons nie verby kom nie,
soos ‘n agt ure werkdag. Maar wat van die res?
Hoe sinvol spandeer ons dit?

C. S. Lewis skryf in sy boek, “Screwtape Letters”,
hoe die senior duiwel raad gee aan die
junior duiwel oor hoe hy Christene gewoond moet
maak daaraan dat hulle so besig moet bly
met dinge, dat hulle verhouding met God
geleidelik moet afwater,
sodat hulle nie meer tyd vir God het nie.
Later sal hulle dit nie eers meer agterkom nie.

Dit is maklik om dinge te vermy wat almal
as verkeerd bestempel.
Maar dit waarmee ons ons besig hou,
kan ons onbewus van die Here af weglei.
Dan is ons besiger as wat die Here ons wil hê.
Dan is ons te besig vir Hom.
En dit kan selfs mooi eerbare dinge wees,
wat te veel van ons tyd neem,
en ons wegneem van Hom af.

Hoeveel tyd spandeer jy doelbewus saam
met die Here en sy Woord? Oordink dit.
Bid daaroor.
Ons kom van die werk. Maak kos. Eet.
Gaan sit voor die TV. Net om daar doodmoeg
op te staan en te gaan slaap.
Vir môre wat dan dieselfde verloop het.
Dag na dag.
En die duiwel is dood tevrede.
En ons raak tevrede dood...
Geen groot sonde gedoen nie, dink ons...
maar ook geen tyd saam met God nie.

C. S. Lewis sê: “The safest road to hell is
the gradual one,
the gentle slope without sudden turnings,
without milestones, without sighnposts.”
Die senior duiwel sê vir die junior duiwel;
dit is nie nodig om Christene groot sondes
te laat doen as die wanbesteding van tyd
hulle reeds van God vervreem nie.
Dink mooi daaroor.

Waar moet ons begin om dit reg te stel?
Dit is eenvoudig:
ons moet seker maak dat ons God werklik liefhet,
werklik liefhet, en daaruit lewe.
Dan sal ons nie anders kan as om tyd saam met Hom
te wil deurbring nie, en dit dan inderdaad doen!

Ernest