“Met die koninkryk van die hemel gaan dit
soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder
die grond lê. Wanneer iemand dit kry,
maak hy dit weer toe;
en omdat hy baie in sy skik is,
gaan verkoop hy alles wat hy het,
en hy koop daardie land.” – Matteus 13:44.

‘n Wêreldberoemde straatkunstenaar, Banksy,
verkoop sy kunswerke vir duisende dollars.
In 2013 het sy kunswerke in New York verskyn
omdat hy vir daar met “uitstallings” besig was.
Op 12 Oktober 2013 het Banksy ongesiens ‘n
uitstal ruimte in Central Park laat opstel. Daar het
iemand vir hom sy oorspronklike getekende
stensil-werke teen slegs 60 dollar stuk verkoop.
Slegs drie indiwidue het daardie dag agt
kunswerke teen 420 dollar in totaal gekoop.
Hulle het self nie eers geweet dit is oorspronklike
duursame meester-kunswerke nie.
Later het Banksy op sy webblad vertel van hierdie
eenmalige geleentheid. Toe het almal wat daar
verbygeloop het hul hare uit hul kop getrek dat
hulle die skatte gemis het. Kunskenners het die
waarde van die kunswerke wat daardie dag op
“uitstalling” was op 30 000 dollar elk beraam!

In bogenoemde teks vergelyk Jesus die
koninkryk van die hemel met ‘n kosbare skat.
‘n Skat waarop iemand “toevallig” afkom,
soos met daardie mense in Central Park.
Dan verkoop die man alles wat hy het om
daardie stuk grond te bekom waarin die skat lê.
Hierdie einste koninkryk skatte word steeds
onverwags en onbepland raakgeloop en gevind
in die saailande van die lewe.
Wanneer mense wat dit raakloop die waarde
daarvan besef, verander hulle lewe vir altyd.
Hulle laat staan alles om God se Skat te kry.
Hulle nuwe lewensstyl is Filippense 1:21:
“Om te lewe, is vir my Christus.”

God se skatte is regtig oneindig meer werd,
oneindig meer, as die wat eenmalig by ‘n stalletjie
in New York se Central Park te vind was.
Sy skatte word ook nie deur diewe bedreig of deur
motte en roes verniel nie.
Sy skatte bring vrede in jou hart wat alle verstand
te bowe gaan. Sy skatte gee lewe tot in ewigheid.
Moenie sy skatte misloop nie!
God se skatte is daagliks op jou lewenspad te vind!

Ernest