Filippense 1:6: “Ek is veral ook daarvan
oortuig dat God, wat die goeie werk in julle
begin het, dit enduit sal voer en dit sal voleindig
op die dag wanneer Christus Jesus kom.”
Die Here hou nooit op bou aan jou nie!
Bouers werk altyd haastig om klaar te kry.
Want tyd is geld. Hulle kan nie bekostig om maar
onbepaald met ‘n projek besig te wees nie.
Gelukkig werk die Here heeltemal anders as
aardse bouers. Wanneer Hy in jou lewe begin bou,
omdat jy Hom ingenooi het om jou lewe oor te neem,
kan jy weet Hy skuif nooit weer aan nie.
Hy hou nooit op met bou aan jou lewe nie.
Hy hou ook nie op in die lewe van ander gelowiges nie.
Ons eie swak bouwerk word afgebreek,
en Hy bou ons op die fondament Jesus Christus!
Donker kamers word voorsien met hemelse lig.
God bly enduit timmer aan ons lewens.
En hy sal dit eers voleindig op die dag wanneer
Christus weer kom. Dit waarborg die Here aan jou,
en aan elke ander navolger van Hom.
Die Boodskap stel dit so: “Van een ding is ek seker:
Dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle
laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag
wanneer Christus Jesus weer kom.
Hy sal julle nooit in die steek laat nie.”
God bou aan jou deur die Heilige Gees.
Moenie Hom weerstaan of bedroef nie.
Jy is onder lewenslange konstruksie,
van die lewende God!
Ernest