Groei is nie in die algemeen regtig opsigtelik nie.
Mens sien nie ‘n boom daagliks groei nie.
Jy sien ook nie ‘n kind daagliks groei nie.
Jy kom net elke nou en dan agter die kind
of boom is al soveel groter!
Jy neem dit oor verloop van tyd waar.
Jy kan dit ook nie afdwing nie.
Jy kan nie jou kind dreig om twee sentimeter
per maand te groei nie.
Tog is daar baie dinge wat noodsaaklik is vir groei.
Die regte omgewing, goeie grond, genoeg lig,
bemesting, die regte hoeveelheid water en kos.
Ons benodig ook die regte geestelike kos
om geestelik te groei, anders staan ons stil!
In Lukas 13:6-9 vertel Jesus in sy gelykenis dat
ons nodig het om geestelik te groei.
Wat is die belangrikste vereiste?
Die belangrikste is:
Wees in die wingerd van die Here!
Wees daar, want in die wingerd is daar
lewens-water en God se brood wat lewe gee!
Hemelse bemesting en God se seën!
God bewerk die wingerd en gee die Heilige Gees
se lewende water.
Die Heilige Gees bring ook die vrug van die Gees.
Die geheim is om naby Jesus te leef!
Volg Hom getrou in sy voetspore.
Hy gee om en versorg jou. Hy snoei jou vir vrug.
Groei in en deur Hom!
Ernest