Israel is in die woestyn onderweg na
die Beloofde Land. Hulle maak so droog dat
God besluit om nie self saam met hulle te trek nie.
Hy sal sy engel saam met hulle stuur, Eksodus 33:2-3.
Dan kry ons byna te doen met die eerste
“godsdienstige staking” in die geskiedenis!
Moses waag dit om die trek na die beloofde land
uit te stel as God nie self saamgaan nie! (15-16).
‘n Engel is nie goed genoeg nie.
Israel is die Here se volk!
Wat gaan die Here doen?
Goeie nuus: Die Here hoor wat Moses vra, vers 17.
Die Here sal saamtrek.
Die teks laat jou na jou asem snak.
God laat Hom oorreed deur die wat soek na sy wil!
Hy trek saam met hulle as hulle bely dat hulle
afhanklik is van Hom en nie vorentoe wil tree
sonder Hom nie!
Ons bid so gereeld dat engele ons moet vergesel.
Daar is slegs ‘n handjievol tekste in die Bybel wat
sê dat God se engele laer trek rondom gelowiges.
Maar hulle doen dit slegs op God se bevel.
Oor en oor sê die Bybel dat die lewende God
self by ons is!
Hy dra en bewaar en beskerm ons persoonlik!
Die beste nuus en voorbeeld is dat Jesus self,
in van sy laaste woorde gesê het,
dat Hyself al die dae tot aan die einde by ons is.
Praat van daaglikse en ewige hemelse beskerming!
Saam met Moses kan ons kinderlik bely dat ons
van Hom afhanklik is.
Ons wil nie ‘n tree vorentoe gee sonder Hóm nie!
Vertrou gróót op Hom persoonlik!
Ernest