Ester 4:14: “As jy nóú swyg en daar kom van
‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode,
sal jy en jou familie omkom. Wie weet,
miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd
soos hierdie dat jy koningin geword het!”
Op ‘n dag moes Ester by haar oom Mordegai
hoor dat sy dalk koningin geword het
“met die oog op ‘n tyd soos hierdie”.
Dit was toe sy huiwerig was om die koning
in te lig oor ‘n komplot teen haar volk.
Net daar het Ester toe verantwoordelikheid
aanvaar vir mense se omstandighede.
Deur haar dapper optrede het sy haar
volk se toekoms verseker.

Net soos Ester is ons almal deel van die
antwoord waarvoor ons bid en wag.
God het ook ons gemaak vir die tyd
en omstandighede waarin ons leef.
Anders sou ons in ‘n ander tydsone geleef het.
En in watter opwindende tye leef ons nie!
Ons is deur God bedoel om hier en nou
sy verteenwoordigers te wees.

Baie mense wens hulle kon op ‘n ander plek
of in ‘n ander tyd wees. Prediker sê hieroor in
7:10: “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou
nie; dit is nie uit wysheid dat ‘n mens so sê nie.”
Dit tref jou teen die voorkop. Ons perspektief
is so beperk in terme van God se perspektief.
Dit geld ook vir daardie idilliese dag van môre
waarop soveel mense hulle hoop plaas.

Die Here het jou bedoel vir vandag en vir nou.
Hy het vandag vir jou gegee en maak jou volledig
deel daarvan. Hy vertrou jou vir nou,
om sy koninkryk nou te laat kom,
in die tyd waarin jy nou leef. Hy vertrou jou
“met die oog op ‘n tyd soos hierdie”.
Ons is vandag mense, nie goeie-ou-dae mense nie.
Of môre-is-‘n-beter-dag hoopvolles nie.
Leef vandag vir God. Maak nou die verskil.

God se genade is genoeg vir vandag – 2 Kor. 4:16.
Sy genade is elke oggend vars en nuut –
Klaagliedere 3:22-23.
God se daaglikse brood is ook vir vandag – Mat. 6:11.
Moenie die lewe misloop nie.
Leef...vandag! Met die oog op ‘n tyd soos hierdie!

Ernest