Lynreg teenoor die gulsige leefstyl van ons
tyd, loop ons onsself telkens vas in die
leefstyl van die Here Jesus. Die styl van
“genoeg is regtig genoeg.”
Jesus se aardse lewe vertel so ‘n ander verhaal
as ons gulsige leefstyl van meer en meer...
geld, status, besittings, mag...tot ons bars!
Wanneer Jesus se voete ons aarde raak is daar
geen stralekrans of konings-kleed vir Hom nie.
Ook nie ‘n skare engele of edelmanne of
invloedryke staatsmanne wat Hom vergesel,
of in sy geselskap gesien wil wees nie.
Hy dra nie duur klere nie, maar die klere van slawe
is sy aardse drag, soos Paulus in Filippense 2:7 sê.
As ons Jesus volg, het ons regtig oorgenoeg.
Meer as genoeg. Hemelse vrede en vreugde is dan
ons reisgenote. Jesus laat ons beker oorloop.
Hy is die hemelse Brood wat ons honger vir altyd stil.
Hy is die lewende Water wat ons dors vir ewig les.
Hy is ons Opstanding en ons Lewe!
Om Jesus te ken is om oorvloed te ken.
Maak nie saak wat jy op jou naam het nie.
Jesus Christus bring ‘n einde aan hierdie
Bodemlose-put-leefstyl waar ons net nooit genoeg
het nie, en elke boodskap glo dat ons nie sonder
dit of dat kan klaarkom nie.
Ken jy die leefstyl van Jesus?
Of is Christus net nog een van jou kommoditeite,
met respek gevra?
Ernest