Vir wie werk jy?
Baie van ons bring die meeste van ons tyd
by die werk deur.
Wanneer jy nie gelukkig is by jou werk nie,
gaan lê daar ‘n klomp negatiewe energie in jou lewe.
Daarom is dit belangrik dat jy moet weet dat jy
geroep is daar waar jy werk. Jy is geroep om daar
‘n verskil te maak ter wille van die koninkryk van God.
Dit is verseker nie altyd maklik in die werkplek nie.
En dikwels verstaan ons geliefdes by die huis dit
ook nie heeltemal nie.
Een ding wat jou daar regop moet hou is die wete
dat God jou daar vertrou om Hom daar te verteenwoordig.
Hy wil jou gebruik om ‘n verskil te maak in elke persoon
se lewe met wie jy in aanraking kom. Kolossense 3:22 sê :
“Nou kom ek by julle wat vir base werk.
Doen wat julle aardse base van julle vra.
Moenie skynheilig wees en net werk as hulle vir julle kyk nie...”
Wees die persoon aan wie die eienaar die sleutels sal toevertrou.
Wees die werknemer op wie se knoppie gedruk kan word.
Wees die werknemer, en baas, wat wys wie die Koning
van jou lewe is.
Moenie net werk vir die tjek aan die einde van die maand nie.
Vers 23 sê verder: “Julle wil tog die Here tevrede stel,
en nie mense nie. Laat mense dit ook sien aan die oorgawe
waarmee julle jul werk doen.
Ons werk eintlik om God se Naam te verheerlik.
Ons werk om God tevrede te stel deur te doen wat
Hy wil hê ons moet doen.”
Ons werk lyk heeltemal anders as ons dit uit hierdie hoek sien.
Daarom sal die manier hoe ons probleme by die werk hanteer
deel wees van die karakter-bou waarmee God in ons besig is.
Daarom kry ons ook met die hulp van die Heilige Gees die
oorhand oor die klippe wat die Bose in ons pad inrol
om ons te versoek.
Dit beteken nie net “bekhou en aanhou” nie.
Onreg in die werkplek moet net soveel deur ons
hanteer word as elders in ons lewe.
God vra nie van ons om slaansakke te wees nie,
of om uitgebuit te word nie. God vra dat ons sal opstaan
vir reg en geregtigheid.
Bid daarom gereeld vir jou en jou werkplek en tree onder
leiding van die Heilige Gees op, met die wysheid en insig
wat Hy jou wil gee daarvoor.
Mag jou werkplek verander omdat jý God daar dien!
Ernest