Rigting borde langs die grootpad word dikwels
padpredikante genoem. Voor ons “Google Maps”
en “GPS” gehad het, het rigtingborde nog ‘n groot
rol gespeel in ‘n reis op onbekende paaie.
Vandag kyk ons nog steeds uit vir rigtingborde.
Dikwels het ons gehoor: “Erken nou dat jy
verdwaal het...Ek het gesê jy moet die rigtingborde
volg en nie jou eie kop nie...”

Ons kan egter ook die pad byster raak in ons
persoonlike lewe soos wat met Dawid gebeur het
met Batseba. Dit het ernstige gevolge gehad wat
veroorsaak het dat Dawid vandag vir ons goeie
raad kan gee uit eie ondervinding.
In Psalm 143 vra Dawid vir die Here om hom te wys
watter paaie hy moet loop.
Hy het besef sy eie afdraai paaie het hom in groot
moeilikheid laat beland. Juis daardie moeilikhede
het hom laat besef dat hy op ‘n pad van vernietiging is.

Dawid bid: “Wys my die pad wat ek moet loop
want my hoop is op U gevestig.
Leer my om U wil te doen want U is my God.
Laat U goeie Gees my op ‘n gelyk pad lei.”
Die Engelse vertaling sê:
“Cause me to walk in your ways”.

In Jeremia 31:12 lees ons:
“Rig vir jou padwysers op,
bring vir jou rigtingborde aan,
hou jou oog op die grootpad,
op die pad wat jy moet loop.”

Ernest