Ons het dikwels hierdie vraag:
“Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?”
Ons sal baie voorbeelde hiervan kan noem...
En die vraag by baie van ons is: “Verdien ons dit?”
Ons wil ‘n rede hê hoekom dit gebeur.
Ons lewe in ‘n stukkende wêreld.
‘n Wêreld waarin mense na God skree om antwoorde.
Maar ons het nie antwoorde op alles nie,
en God is ook nie aan ons antwoorde verskuldig nie,
en baie dinge bring ons self oor ons,
of mense wat nie die wil van God soek nie
bring dit oor ons...
As ons al die antwoorde gehad het sou ons self
God gewees het. Net God weet alles.
God gebruik egter dinge wat met ons gebeur
om sy goddelike doel met ons te bereik.
Daarom kon Paulus sê dat alles ten goede meewerk
vir die wat die Here liefhet. En dit ten spyte van alles
wat met hom gebeur het terwyl hy voluit
die Here gedien het!
Dit is regtig nie God wat alles oor ons bring nie.
God moet nie die “skuld” vir alles kry nie.
Maar God staan nie verleë met wat met ons gebeur nie.
Niks kan ons uit sy hand ruk nie,
en Hy sal sy doel met ons bereik.
Jakobus 1:12 sê so duidelik in Die Boodskap vertaling:
“Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe
om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly.
Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag.
God noem sulke mense wenners in die lewe.
Hy sal hulle deel van sy familie maak.
Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur
hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het.”
Tree dus so op in moeilike tye dat jy wys hoe lief
jy die Here werklik het.
Ernest