Kom ons dink nog ‘n keer daaroor na:
Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?
Ons het gesien Jakobus 1:12 sê:
“Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons
lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly.
Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag.
God noem sulke mense wenners in die lewe.
Hy sal hulle deel van sy familie maak.
Hulle sal vir altyd by God bly omdat hulle deur hulle
optrede gewys het hoe lief hulle Hom het.”

Dit is nie maklik nie,
want dit gee nie vir ons antwoorde nie.
Dit sê net wat God doen met hierdie seer of moeilikheid.
Ons moet weet dat God hierdie slegte in ons lewens
sal omdraai. Ons sal eendag kan terugkyk en sien
hoe God ons daardeur geneem het.

Wanneer dit sleg gaan,
moenie die oorsaak by God gaan soek nie.
Moet ook nie “jou speelgoed uit die kot gooi” en
bly sê “hoekom...hoekom Here” nie.
Ons het nie die antwoorde nie en verstaan nie
vir God heeltemal nie.

Die beeld word gebruik hoe goud gesuiwer word.
Deur dit deur duisende grade warm te maak!
Wanneer ons deur die oond gaan word ons geloof ook
gesuiwer van al die afval wat God nie daar wil hê nie.
Maar onthou: dit is nie God wat dit oor jou bring nie.

Net die volgende vers 13 sê:
“Een fout moet ons egter nie maak nie.
Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge
oor my bring net om my te toets nie”.
Ons eie besluite en optrede,
en die besluite van ander mense en hulle optrede,
bring baie slegte dinge oor ons pad.
Maar God gaan die swaar in ons lewe gebruik om
sy doel met ons te bereik tot sy eer.
Dit is nie maklik om gesuiwer te word nie.
Maar hou onwrikbaar vas aan God!

Ernest