Wysheid en kennis...waar kry ons dit?
Spreuke 1:7 sê:
“Kennis begin met die dien van die Here.”
In die Engelse vertaling:
“The fear of the Lord is the beginning of knowledge”.
Hierdie “fear” is nie bang wees vir God se straf
of vir God self nie.
Dit is diep respek wat met groot verwondering
gepaardgaan.

Om respek vir God te hê en om in verwondering
te staan van Wie Hy is, dít is die begin van kennis.
Om te weet Wie God is en wat in sy hart vir ons is,
om die omvang van sy liefde en genade te
probeer begryp, en om te besef hoe groot en diep
sy vergifnis is, en om dan toe te laat dat dit jou
in verwondering laat staan oor Hom!
Dit loop dan oor in liefde vir Hom!
En in gehoorsaamheid aan Hom.
God leer ons hoe om te lewe, waarlik te lewe.

Ons lees soveel handleidings wanneer ons
nuwe dinge koop, soos selfone, motors,
kombuis implemente...
om kennis daarvan op te doen.
Die doel is om dit reg te gebruik sodat dit die
maksimum waarde toevoeg waarvoor ons dit bedoel.
Die Bybel is aan ons gegee om God te leer ken
en onsself te leer ken, nie om ons in te perk nie,
maar om ons die ware lewe te laat leef!

As ons nie vir God kan bewonder en in verwondering
staan vir Wie Hy is nie, en nie dan vir Hom leef nie,
sal ons geen ware kennis en wysheid hê nie!
Dit is net dwase wat dink en sê dit is nie nodig
om God te ken nie.
Die Here wil hê jy moet wysheid en kennis by Hom kry!
Josh Billings het gesê:
“Geleerdheid snork in biblioteke;
wysheid dans die wêreld vol –
op die punte van haar tone, en wawyd wakker!”
Wysheid begin met die dien van die Here!
Jy lééf!...saam met Hom!

Ernest