Billy Ocean sing ‘n liedjie
“When the going gets tough the tough gets going”.
Wat beteken dit?
Wanneer omstandighede moeilik raak
neem sterk mense aksie!
Wanneer dit moeilik raak in die lewe,
staan sterk mense op en gaan oor tot aksie.
Hulle pak die bul by die horings!
Hulle laat nie toe dat die omstandighede hulle
onder kry nie. Hulle beur deur die krisis.
Dikwels laat ons toe dat omstandighede ons onder kry.
Dan wil ons in ‘n hoekie gaan sit en onsself jammer kry.
Maar ons weet dit is nie die pad uit nie!
Paulus word onregverdig gevange gehou.
Juis oor dit wat Hy glo.
Juis oor dit wat hy vir die Here doen!
Hy weet dat hy vir die volgende twee jaar nie
‘n regverdige verhoor sou hê nie.
Paulus gaan sit nie in die hoekie
en kry homself jammer nie.
Lees wat sê hy in Filippense 1:12:
“My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel.
Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is,
maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed?
Dit help die verkondiging van die evangelie aan.
Nie net al die wagte in die paleis nie,
maar ook al die ander mense sien duidelik dat ek
in die tronk is net omdat ek ‘n Christen is.
Dit het bowendien ‘n goeie invloed op die meeste
ander mense wat ook die Here dien.
Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom
deur is die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep.
Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie.
Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat
hulle te bang was, begin hulle nou al meer
en meer oor Hom praat.”
Uit die gevolge van Paulus se “tough”, in God se krag,
word daar ge-“go”!
Daar gebeur uit die gevolge van wat met hom gebeur
wonderlike dinge! Die evangelie word wyd versprei!
Mense wat nooit kans gesien het nie,
praat nou oor Christus. Verreikende gevolge!
Vandag nog lees ons hierdie brief wat Paulus
uit die gevangenis geskryf het!
Met verreikende gevolge, eeue later!
Hoe hanteer jy jou krisis?
Saam met die Here sál jy dit oorwin as jy die groter
prentjie sien en besef dat die Here jou ook daarin
wil gebruik, met verreikende gevolge!
Jy ís daartoe in staat omdat die Here jou krag gee!
Dit sê Paulus in dieselfde brief in Filippense 4:13!
Met die Here se krag kan jy weet:
“When the going gets tough the tough gets going”.
Ernest