Mense doen dinge in die duisternis.
Daar is mense wat nie daarvan hou om
in die lig te leef nie.
Hulle weet dat hulle dade sigbaar word in die lig.
In Handelinge 17:27 staan dat die Here ons
gemaak het om Hom te soek.
Al sou ons ook moes rondtas om Hom te vind.
Elke mens moet op ‘n punt kom waar ons besef dat
ons in die donker is totdat God in ons lewe skyn.
Dit gebeur as ons die teenoorgestelde van
die donker gesien het, en dit is die lig!
Reg in die begin van die Bybel lees ons dat,
nadat God die lig geskep het, Hy gesien het dit was goed.
Hy het toe dadelik die lig van die donker geskei.
Hy wil hê ons moet in ons lewe ook onderskei tussen
lig en duisternis, tussen reg en verkeerd.
Al was dit donker op die aarde,
het God se Gees oor die waters gesweef.
God is alomteenwoordig.
En God wag vir elkeen wat in die donker is.
Hy wil elkeen lei na die lig wat elke mens verlig. Joh. 1:9.
God is nie onbereikbaar vir enige iemand nie.
Jesaja 29:15 sê: “Ellende wag vir dié wat dink hulle
kan hulle planne diep wegsteek vir die Here,
hulle wat besig is om dinge in die donker te doen en dink:
wie sien ons? Wie weet van ons?”
Elkeen van ons is in die donker totdat ons weer gebore
word deur die Gees in Jesus Christus.
Dan eers leef ons in die lig. God is die lig.
Hy wil hê jy moet na Hom toe beweeg sodat Hy jou
kan leer wie Hy is.
1 Johannes 1:7 sê: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy
in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde
gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun,
ons van elke sonde.”
Moenie toelaat dat die donkerte jou vashou nie.
God wag vir jou.
Hy bedoel dat jy deel van sy familie moet wees.
Sy kind!
Ernest