Waar is my sleutels?
Waar is my bril? Waar is my kledingstuk?
Ons kan erg omgekrap raak wanneer ons na
dinge soek wat ons gebruik het,
en wat ons deurlopend nodig het.
Dit breek ons spoed en is erg irriterend.
Veral as meer as een persoon iets gebruik en
dit nie terugsit “waar dit hoort nie”!
Nou gebruik die duiwel natuurlik hierdie
geleenthede om ons te laat sondig!
Ons word naderhand smoorkwaad en ons
woordeskat brei uit! En ons maak mense seer!
Ons moet regtig probeer om nie so omgekrap
te raak as iets soek raak nie.
Ons gee goeie vatkans aan die duiwel daarmee.
En hy sal dit elke keer uitbuit. Glo dit verseker!
Wanneer jy dit die minste verwag, raak iets soek,
en daar gaan alles wat jy jou so goed oor
voorgeneem het. Hierin kry ons praktiese oefening
oor goeie voornemens.
Hanteer die situasie in liefde.
Vra vir die Here ín die situasie hoe Hy wil hê jy dit
nóú moet hanteer. Nie later nie. Nou!
Onthou ook die geleenthede waar jy self
dinge laat wegraak het.
Dink ook aan hóé kwaad jy geword het oor jou vrou
“wat seker nou weer my bril gebruik het”,
en dan ontdek jy dit op jou eie kop!
Efesiërs 4:27 sê: “Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
Hy vat jou op die plekkies wat jy dink “klein” is,
en laat jou sonde doen wat altyd “groot” is.
Net ‘n bietjie verder aan staan in vers 30:
“En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie...”
Ons kan ook in die sogenaamde “klein dingetjies”
die Gees bedroef deur die manier waarop ons optree.
En die ergste van alles is: Ons is gewoonlik self
die rede dat iets soek raak!
Ernest