Bly vernuwe onder leiding van die Heilige Gees.
Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige
wêreld gelyk word nie, maar laat God julle
verander deur julle denke te vernuwe...”
Ons moet ontslae raak van slegte gewoontes,
gewoontes waarin ons vasgeroes is.
Dit is makliker gesê as gedaan, en dit is ook daarom
dat Paulus in die teks sê “laat God julle verander...”
ons kan dit nie uit onsself regkry nie. Ons klou vas.
Maar ons moet oorgee aan die Gees om ons te vernuwe.
Dat ons so kan bly vasklou aan ou manier van dink en doen
word mooi geïllustreer deur die storie van twee monnike:
Elke oggend het hulle vroeg opgestaan en na ‘n rivier gestap
as deel van hulle daaglikse ritueel.
Op ‘n dag was daar ‘n misterieuse vrou op die oewer wat die
rivier wou oorsteek. Sy het die monnike gevra om haar te help.
Sonder huiwering het die ouer monnik haar op sy rug getel
en die rivier oorgesteek. Aan die ander kant het hy haar veilig
neergesit en verder gestap.
Ná ‘n hele ruk kon die jonger monnik sy iesegrimmigheid nie
meer wegsteek nie en hy vra:
“Waarom het jy haar op jou rug getel en oor die rivier gedra,
my leermeester? Jy weet mos ons mag nie aan vroue raak nie.”
Die ouer monnik het ‘n rukkie stil gedink en toe geantwoord:
“Ek het haar aan die ander kant van die rivier neergesit,
my jong vriend. Dit is jý wat haar nog saamdra...”
Wat is die wysheid hiervan?
As ons getrou is aan ons ou self sal ons presies dieselfde bly.
Ons sal wetties dink, sonder om te vernuwe en te dien
onder leiding van die Heilige Gees.
As ons egter die Here toelaat om ons denke te vernuwe,
deur die Gees, dan sal ons verander om nuut te leef,
deur die Gees!
Ons moet nie bly dra aan die verlede en ou manier van
dink en doen nie. Ons moet getrou begin leef aan die
toekomstige self, die mens wie die Here ons nou gemaak het,
en met wie Hy nog steeds besig is.
Ons moet toelaat dat die saad van nuwe lewe groei!
Dit is soos die bamboes saadjie wat vir jare dormant onder
die grond lê. Maar dán, na vyf jaar, breek dit deur die grond,
en rys die hoogtes in. Die saadjie het vir jare gelê en wag,
karakter gevorm, sterk geword, en begin glo!
Daar is baie saad van die Heilige gees in jou wat wag
om te groei en die hoogtes in te rys en vrug te dra!
Laat toe dat dit met jou gebeur!
God wil jou verander deur jou denke te vernuwe,
op ‘n daaglikse basis.
Dink nuut! Doen nuut! Leef nuut!
Ernest