Slegte dinge gebeur met alle mense.
Ons leef in ‘n wêreld wat vol hartseer en pyn is.
Ellende kruis ook die pad van gelowiges.
In die Psalms worstel die skrywers juis dikwels
daarmee dat dit lyk of dit net goed gaan met die
onregverdiges en ongelowiges!
En dan gebeur daar ook dikwels iets baie goed en
onverwags met ons. Toevallig?
Ons wonder of alles deel van ‘n groter plan met
ons lewe is?

Of is alles eerder deel van ‘n toevallige sameloop
van omstandighede?
Ons wonder nog meer as slegte dinge ons tref.
Is ‘n motorongeluk, ‘n afdanking by jou werk,
die dood van ‘n baba, moord, of ‘n motorkaping
alles regtig deel van God se plan!?
Of is dit deel van die wêreld se gebrokenheid?
Mense voel dikwels in hulle hartseer soos ‘n
marionet wat se toutjies net getrek word.
Sonder ‘n wil. Want dit is nie wat jy sou kies nie!

Onthou weer: Slegte dinge gebeur met goeie
en slegte mense. Ons kan nie al die slegte dinge
wat gebeur voor die Here se deur gaan neersit nie.
Hy laat beslis nie slegte dinge met gelowiges
gebeur om hulle ‘n “les te leer nie”.

Omdat God ons geskep het kan ons weet dat
niemand toevallig op aarde is nie!
Daar is nie iets soos toeval in God se plan nie.
Hy is almagtig en bly in beheer van die skepping.
Jy is ook nie ‘n fout wat toevallig op die verkeerde
plek of in die verkeerde tyd is nie.
God het jou binne sy groot genade geskep om
uniek vir Hom te wees. Daarom gebeur dinge nie
maar per ongeluk met jou nie.

Die Bybel sê ook dat niks sommer net gebeur nie.
Alles het ‘n plek in die hemelse plan. Ons as mense
loop nie altyd in lyn met God se plan nie.
Ons maak keuses wat nie God se wil is nie.
Maar God staan nie daarmee verleë nie.
Hy laat steeds alles ten goede meewerk vir die
wat Hom liefhet. Al lyk dit nie so vir ons nie!
Ons sien met so ‘n beperkte insig.
God sien en weet volledig.

Daarom kán ons met die vrede leef wat alle verstand
te bowe gaan waarvan Filippense 4:7 praat:
“Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan sal
oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Ons kan rustig wees ten spyte van ons omstandighede.
Klink dit belaglik? Nee. Ons kan regtig,
want ons kan onwrikbaar vashou aan God se belofte in
Filippense 4:9: “En God wat vrede gee sál by julle wees”!
God sál by jou wees. Altyd! Ongeag!

Ernest