God skuif ons nie rond soos pionne op ‘n skaakbord nie.
Elkeen het die vryheid om te dink, te doen en te leef
soos jy wil. Tog word jy nie maar aan jou eie genade
oorgelaat nie, maar kom God in genade na jou toe!
Die verhouding tussen ons en God is daarom net
moontlik deur sy genade,
en ons geloof as gevolg daarvan.

Hierdie verhouding is ‘n geheimenis.
Ons kan dit nie klinies in kompartemente verdeel
en met die verstand ontrafel nie.
Deel van die geheimenis is dat hierdie verhouding
verdiep wanneer ons deur moeilike tye gaan.
Dit is nie iets wat altyd uitgeredeneer kan word nie.

Daarom moet ons vry en vrymoedig leef en die
beste maak van elke dag. Dit is ons besluit om
geleenthede aan te gryp of te laat verbygaan.
Om voor versoekings te swig, of om sterk te staan.
Ons het die vermoë gekry om tussen goed en kwaad
te onderskei. Ons moet kies vir die lig. Die waarheid.

Die duiwel doen hom voor as die engel van die lig.
Ons moet onder leiding van die Heilige Gees lewe wat
ons help onderskei tussen lig en duisternis.
Wanneer ons Jesus onvoorwaardelik volg,
en naby Hom lewe, help Hy ons om te onderskei
wat die lig en die waarheid is.

Jesus is die weg en die waarheid en die lewe!
Hebreërs 2:18 sê:
“Omdat Hy self versoek is en gely het,
kan Hy dié help wat versoek word.”

Ernest