Daar is inderdaad ‘n kennisontploffing in ons tyd.
Dit is ook waar van ons geestelike lewe.
Soveel denominasies, predikers, webtuistes, boeke...
Soveel verskillende opinies op sosiale media.
In Christelike boekwinkels is rakke vol boeke oor
dieselfde onderwerpe. Wat moet ons glo?!
Een van die grootste uitdagings is om tussen
al die inligting te onderskei.
Waaroor gaan die lewe nou eintlik?
Die belangrikste? Wat is dit?
Ons leer baie uit Jesus se interaksie met die
skrifgeleerdes en Fariseërs van sy tyd.
En die belangrikste is dat ‘n mens ‘n klomp kennis
kan hê en steeds God se hart heeltemal kan mis.
Jy kan die skrifte oor Hom ken, en Hom nie ken nie.
Dit is die tragiese ironie in die Bybel,
dat die mense wat God en sy wil bestudeer het,
Hom wou doodmaak toe Hy tussen hulle kom loop het!
Hy het nie in hulle godsdienstige raamwerk ingepas nie.
Hy was te genadig, te vry, te weerloos, te naby.
En hulle mis Hom terwyl Hy voor hulle is.
Waar plaas Jesus die klem? Waarop moet ons fokus?
Wat moet die kern van die kern wees?
Die skrifgeleerde vra wat “die heel belangrikste” in die
wet en die profete is?... die Bybel van hulle tyd.
Jesus antwoord dat dit liefde is!
Dit is die heel belangrikste! Liefde vir ons Skepper,
en liefde vir ons naaste. En dit is gelyk!
Dit is ‘n radikale stelling!
In Lukas vra die skrifgeleerde wat hierdie stelling beteken,
en dan hoor ons die verhaal van die barmhartige Samaritaan.
Paulus beklemtoon dit ook in Romeine 13:8 en sê dat
liefde die hele wet saamvat.
Jesus vat ook die hele wet saam met liefde!
1 Kor. 13 sê sonder liefde is ons niks, en stel dit bo geloof!
Ware volgelinge van Jesus kies die pad van die meeste liefde!
Ernest