Is ons verhouding met God in voorspelbare vaste bane?
Sê nou maar ons sou ander vrae in die kerk begin vra.
Sê nou maar ons sou nie meer vra hoeveel mense woon
die erediens by nie. Of hoe groot is die gemeente se
maandelikse bydrae nie. Of hoe werk die kerkraad,
en jeugbediening, en kleingroepe, en kategese nie.
Wat as ons eerder vir mekaar sou vra:
Hoeveel mense vertel dat hulle in hul toewyding
aan God gegroei het?
Wie se lewens getuig van groter liefde vir God,
en meer liefde en diensbaarheid vir hulle medemens?
Sê nou maar kerklike verslae sou nie meer handel
oor erediens bywoning, bydraes, lidmaat getalle,
of hoeveel huisbesoek gedoen is nie?
Wat sou gebeur as lidmate se praktiese liefde
vir Jesus en mekaar as die enigste norm vir kerklike
betrokkenheid beskou word?
Wie weet, dan kan wedersydse liefde, respek en agting,
en omgee met deernis, weer lewensbelangrike
kerklike waardes word.
Dink net hoe revolusionêr sou dit wees as die volgende
vraag permanent op elke kerklike vergadering se tafel is:
hoeveel mense in ons midde het vanjaar gekies om
volgelinge van Jesus te word?!
Hoe anders sal dit wees as gemeentes elke keer
wanneer hulle iets aanpak sou vra:
Vir wie doen ons dit? Vir onsself,
of vir mense wat nog nie die Here ken nie?
Dan sou baie byeenkomste nie so voorspelbaar,
vervelig, en “dood-veilig” gewees het nie!
Sê nou ons sou nie langer die betrokkenheid van
kerklidmate meet aan hoe getrou hulle opdaag by
elke moontlike kerklike aktiwiteit nie.
En ons sou eerder meet of mense hul geloof
elke dag saam met hulle in hul lewe laat grondvat.
Dan sal gelowiges ontdek dat kerk-wees eintlik
eers gebeur as hulle nie by die kerk is nie!
Dan sal daar minder kerklike aktiwiteite en meer
geloof-aktiwiteite plaasvind.
Hoe dink jy hieroor?
Vir wie is ons kerk? Vir onsself?
Of vir mense wat nog nie die Here ken nie?
Ernest